Op ‘n laatwintermiddag kom Gertruida Strydom alleen terug Kwakersvallei toe nadat haar pa en ma op die dorp begrawe is. Sy haat hulle. Terwyl sy ‘n toegang-verbode-bord op die plaashek vassit, juig sy saam met die vleipaddas dat die koedoe voor hulle ingehardloop het. Dit was nie haar pa en ma nie. Dit was Abel en Susarah Strydom. Een en dieselfde. Algeheel verskillend. Stinkryk. Brandarm. Wandelend met God. Ingehaak by Satan. Sy was nooit hulle kosbare kroonkiewietjie nie. Toe hulle haar moes bewaak teen die naglikkewaan, het hulle haar uitgelewer. Abel het van haar sy merrieponie gemaak toe sy nog wou kinderliedjies sing en naaldekokers jaag. Kindvrou wat in die silwer maanlig voor die venster vir hom moet dans; op haar knieë voor ouma Strydom se spieëlkas staan en na gru-beelde kyk. Terwyl Susarah siende blind en horende doof lê en slaap. Of is sy wakker? In die huis teen die bergrant sit Mama Thandeka in haar isitulo esishu-kumayo en wieg liggietjies. Haar oë sien sleg. Haar hart is vol droefte. Sy, umakhulu, het als op Kwakersvallei gesien en gehoor, jare lank. Snags slaap sy sleg, want toe sy moes praat, het sy ge-thula. Nou het die tyd vir praat verbygegaan. Al wat vir haar oorbly, is om al die utatas en umamas van die aarde se geeste tot by haar wiegstoel te roep, en te sê: Abazali, hlalani phantsi, phulapulani. Ouers, sit asseblief, luister mooi. Sodat sy, met iNkosi as getuie, die waarheid van die mense van Kwakersvallei kan uitsê. En Maandag se Maandag wil sy met haar notsungkierie afsukkel werf toe om Gertruida bietjie vas te hou. Al wil Gertruida van niemand vasgehou wees nie
Thula-thula (Afrikaanse uitgawe)
Sobre
Talvez você seja redirecionado para outro site